My Ouma het altyd gesê die wiel draai verwysende na elke hond kry sy dag, maar veral verwysende na die gebeurtenisse wat gevolg het lank na die totale verwoesting en armoede na die Boere oorlog of soos dit amptelik bekend is ,die South African War 1899 -1902. Die bure op die buurplaas was hanskakies wat saam met die Engelse gewerk het hul vee en plaas behou en natuurlik hulself oppurtunisties verder verryk het uit die armoede en hopeloosheid waarin hul mede mens en ook my ouma hulle hulself bevind het. Dit was natuurlik nie ongewoon nie, teen die einde van die oorlog was bykans die helfte boere hensoppers of hanskakies. (sien Boer War Thomas Pakenham). Ouma hulle was slagoffers van die Engelse se verskroeide aarde beleid en het my ouma maar oor vertel hoe haar ma en ouma en kinders net kans gegee is om alles wat hulle kon op ‘n wa te laai en die woning toe summier afgebrand was. Sy het ook vertel hoe haar ouma daarna, die eerste ding wat sy gedoen het was om met ‘n stok in die swart as die buite lyne te trek van wat sy gesê het die skool vir die kinders moet wees. Of dit bepaald presies dieselfde gebou was wat Ouma grootje voorsien het weet ek nou nie maar die klip geboutjie wat die plaas skooltjie geword het, het vir baie jare stewig op die rand afge êts gestaan as ‘n monument vir die baie kinders wat daar skool gegaan het. My moeder en haar broers was hier onderrig totdat hulle standard ses na die dorp skool en koshuis toe gegaan het tot en met die middel vyftiger jare. Twee onderwysers en al die standerds bymekaar. Ek kon nooit ‘n haat of wrok in my ouma bespeur nie. Die bure was soos enige van die ander bure behandel. Ek dink net daar is maar agter toe deure gefluister. Engelsman en Boer is later versoen. Kinders moet gesien word en nie gehoor word nie en so het die geskiedenis later maar vervaag. Die wiel draai storie kom daarvan dat alhoewel dit selfs tydens die veertiger jare baie swaar en armoedig gegaan het. Al ouma se kinders en die van haar broers se kinders wat daar op die plaas skooltjie skool gegaan het, dokters, professors, prokureurs en onderwysers geword het. Vandag is haar een seun ‘n baie nederige maar seker die mees vooruitstrewende moderne boer in die distrik. Die bure is soort van uitgesterf, die plaas is bankrot geboer met allerhande snaakse vinnig rykword planne. Die nageslag was nooit danig slim nie. Die laaste van hulle wat ek nog van gehoor het was ou “J….” ‘n Maltrap grapmaker nou nie heeltemal die village idiot nie maar ook nie vreeslik slim nie, hy het laas ‘n R5 crazy shop bedryf, ‘n winkel waar alles R5 gekos het en waarvan my ma gese het sy sal maar liewerster sonder so R5 plastiek bakkie tjie klaarkom. Hy het in ‘n piramiede skema betrokke geraak en toe lank skoonveld verdwyn. Hy is toe eendag jare later alleen in ‘n mielie land dood verongeluk gekry, ‘n boer het toevallig op hom afgekom daar alleen. Almal het gewonder waarom ou “J..” terug ge kom het en dan ook om net hier te verongeluk voor iemand hom kon vra waar hy was. Soos my ouma altyd gesê het die wiel draai ….baie stadig maar seker.


2 responses so far ↓
boerinballingskap // Junie 25, 2007 at 12:42 nm |
Dankie, man! Ek geniet jou vertellinge baie.
luigiblog // Junie 25, 2007 at 9:11 nm |
Dankie ek waardeer regtig jou aanmoediging as ek ten minste ‘n glimlag hier en daar laat is dit die moeite werd vir my. Ek het besluit om weg te doen met te veel taal vermenging en die blog te verafrikaans. Daarom die titel en “pages” ens verander. Ek vind dit plaas die blog beter in ‘n konteks. Ek het ook besef dat ek nie ‘n groter gehoor sal kry bloot deur multi Suid Afrikaans te wees nie. My humor is te tipies Afrikaans. Ek sukkel nog met ‘n goeie titel. enige voorstel?